Ons hou van

Die wonder van gee – Deel 1

Wat is lekkerder as om te gee? Deel dié Kersfees jou tyd, liefde, kos, geld en geesdrif

Kerstyd gaan oor hoe jy jou hart oopmaak, eerder as jou geskenk, het ’n slim vrou eenkeer opgemerk. En ons deel graag – van resepte tot kos en geskenke, sê dr. Clifford Heys van die NG gemeente Onrusrivier in die Wes-Kaap. ‘‘Daar is iets goeds in almal.’’ Of dit nou jou tyd, of ou klere en kos is. Ons harte is oop. In ’n nasionale studie in 2005 is Suid-Afrika as ’n nasie van gewers geïdentifiseer. (Dit is gekoördineer deur die Universiteit van KwaZulu-Natal se sentrum vir burgerlike samelewing.)

In navorsing oor “lande wat gee’’ was Suid-Afrika egter 108ste uit 153 lande. Amerika was die voorloper en Ierland tweede. Dis in 2011 deur die Britse Charities Aid Foundation (CAF UK) gedoen. Dit klink nie so positief nie. En tog, kyk jy om jou rond, gebeur hier ongelooflike dinge, elke dag. Ook op Kersdag en in die Kerstyd. “Welwillendheidsdag op 26 Desember is sedert 1871 ’n openbare vakansiedag in Brittanje. Dit word Boxing Day genoem. Destyds is daar op Kersdag ’n spesiale houer [alms box] vir aalmoese voor in die kerk gesit. Op 26 Desember is die inhoud van dié houers uitgedeel. Die lords en ladies het dit dan tussen hul werkers versprei,’’ vertel dr. Heys.

Jou hart raak ook warm as jy op 26 Desember ’n gewoel en ’n gewerskaf by baie SA kerke sien. Gemeentelede maak byvoorbeeld kospakkies vir minderbevoorregtes. Maar hoekom wil ons so graag gee? Marietjie Verster, kliniese en bedryfsielkundige van Pretoria, sê endorfiene (goedvoel-hormone) word afgeskei as jy geskenke ontvang én gee. Dis vanweë die opgewondenheid en afwagting wat daarmee saamgaan. “Of jy vier of 84 is, die verrassingselement bly dieselfde.’’ Volgens haar is dit belangrik om die regte ingesteldheid te hê as jy gee. “Redes om te gee is legio: soos om jouself te beloon. Dit kan ’n vorm van manipulasie wees om jou skuldgevoelens te verlig en ‘op te maak’ ná konflik. Ook ’n soeke na goedkeuring.’’ Maar die beste geskenke word met liefde gegee.

Soos die skrywer Mitch Album in Tuesdays with Morrie skryf: “Do the kinds of things that come from the heart, you’ll be overwhelmed with what comes back,” vertel Marietjie. En om te ontvang is nét so ’n groot kuns, sê sy. “Hoe meer jy jou passies in die lewe vind, hoe meer spoel dit na ander mense toe oor. Ek sit nie op my stoep en dink ek wil ’n goeie mens wees, wat kan ek doen waarvan God sal hou nie. Vind jou pad, loop dit en dít sal dan oorspoel na ander. Die beste ‘gee’ is as jy nie eens bewus daarvan is nie. En Suid-Afrikaners gee vir seker. Mits jy mense se harte raak en nie prekerig is nie. Kyk hoe het almal met die waterbeperkings in 2010 op Beaufort-Wes water in houers aangery,’’ vertel RSG-omroeper Amore Bekker.

SARIE het met gewers gepraat wat hul harte wyd oopgemaak en ’n verskil gemaak het.

Gekke Liefdadigheid – Francois Pienaar & Estée Lauder

FP_RietenboschSy ouers het nie geld gehad om hom te laat studeer nie. As dit nie vir sy sport was nie, sou hy nie verder kon gaan leer nie, sê die oud-Springbok-kaptein Francois Pienaar. “Toe ek en my gesin twaalf jaar gelede van Londen af na Suid-Afrika toe terugkeer, het ek en ’n paar vriende besluit om kinders met potensiaal te help om te studeer. Ons organisasie, MAD (Make a Difference) CHARITY, het klein-klein begin. Elf jaar later bestaan dit uit drie groot projekte: die eko-program, wat kinders meer bewus maak van omgewingsbewaring en ‘groen’ leef, die geletterdheidsprogram, en die vlagskip-projek: een waar ons leiers ontwikkel. Ons glo passievol SA se toekoms lê by onderwys en skepping en afronding van nuwe leiers.“Dit is wonderlik om te sien hoe die uitsoek-kinders ons programme waardeer. Ons land het baie potensiaal.

My seuns, Jean (15) en Stephane (14), woon soms MAD CHARITY se leierskapskampe by. Hulle besef hoe bevoorreg hulle is, dat hulle byvoorbeeld in topskole is. “Ek en my vrou, Nerine, leer hulle om elke jaar kaste skoon te maak en speelgoed en klere aan agtergeblewe kinders te skenk. My ouers, Johan en Valerie, wat afgetree het en op my tuisdorp Witbank, Mpumalanga, woon, was nie ryk nie. Maar hulle het my ’n goeie opvoeding gegee. Ek moes mense in die oë kyk as ek groet, ’n ferm handdruk gee, ons het ouer mense as ‘oom’ en ‘tannie’ aangespreek, teen boelies opgestaan in die skool. Die klein dingetjies in die lewe is belangrik. En dit is wat ek en Nerine ons seuns wil leer. Ook om die wêreld ’n beter plek te maak.

Francois Rietenbosch“My broers, Kobus, Deon en Gerrit, sakemanne van Gauteng, het ook oop harte. Hulle is nie bang om hand in die sak te steek nie. Maar jy sal nooit daarvan hoor nie.’’ François is opgewonde oor ál hul projekte. Maar veral die Estée Lauder Foundation for the Nation-projek, wat in 2010 afgeskop het. Dit was die idee van ’n skoolvriendin, Ronel Lategan, wat vroeër vir dié skoonheidshuis gewerk het. Elke jaar, in Julie, September, Oktober, Februarie en April, skenk dié skoonheidshuis R10 aan MAD CHARITY vir elke onderlaag wat verkoop word. Só is daar reeds R2,6 miljoen ingesamel en 107 agtergeblewe vroue met naskoolse opleiding gehelp. ‘‘Ons glo, nes ons kliënte, die jeug moet ’n goeie opvoeding kry. Dat hulle dan op hul beurt vir ’n blink toekoms sal sorg,’’ sê Kerry Evans, algemene bestuurder van Estée Lauder en Tom Ford.

Volgens François kan almal iéts gee. ‘‘Dit hoef nie geld te wees nie en jy hoef nie daaroor te praat nie. Die ‘dankie’ is immers nie dat die hele wêreld daarvan weet nie. Maar die uitdrukking of glimlag op iemand se gesig as hy dit ontvang. Dís kosbaar.’’

Navrae www.madcharity.org

Die wonder van gee – Deel 2: Lees nóg twee verhale van vroue wat weet hoe om te gee PLUS jy kan ook bydra!