Ons hou van

Vleissnitte vir winter-bredies

Suid-Afrikaners is lief vir ’n stukkie vleis, maar gelukkig hoef jy nie elke aand steak voor te sit nie. Daar is ander vleissnitte wat smaaklik en voedsaam is.

As jy vleis koop, is dit die moeite werd om ’n paar slagters se pryse en produkte met mekaar te vergelyk. Vra ook jou slagter vir goedkoper snitte. Kies kleiner vleissnitte sodat daar meer stukkies is. ’n Porsie van 150 tot 200 g vleis per persoon is oorgenoeg.

Beesskenkel (shin of beef)

Skenkel is ’n goedkoper alternatief vir gunstelinge soos kort ribbes. Die skenkel het al die geur wat jy wil hê in 'n goedkoper vleissnit, met die ekstra bonus van 'n oop murgbeen wat 'n lekker gelatienagtige tekstuur aan sop en bredies gee.

Beesstert

Dit word beskou as 'n afvalsnit, maar die vleisgedeelte is darem heel herkenbaar en nie te volksvreemd sodra dit van die been af is nie. Dis nie noodwendig die goedkoopste snit nie, maar jy kan dit maklik rek deur baie groente by te voeg.

Dikrib (chuck)

Die meeste mense dink dikrib word net vir bredies of maalvlies gebruik. Dikribskyf (steaks) kom van die deel van die skouer naaste aan dié waar ribeye steak gesny word en het ook al die smaak van die gesogte ribeye-snit, maar dis veelsydiger. Dit kan gerooster, oor die kole gebraai en selfs in bredies gebruik word. Die snit is goedkoper as die gesogte ribeye.

Lamsblad-tjop

Wat is nou meer sinoniem met SA as 'n lekker lamstjoppie oor die kole? Maar o wee, dit is deesdae peperduur. Hierdie snit is ook ideaal vir braai en bredies, maar beslis goedkoper as die lendetjop.

Skaapnek

Dié snit kook verbasend vinnig sag, onthou net dat daar 'n sening in die middel loop. Perfek vir winterbredies, maar nogal 'n vetterige snit.

Varkfilet

'n Baie klein filet wat geen vet bevat nie. Dis die goedkoopste snit varkvleis, anders as beesfilet wat die duurste beessnit is.