krewe
Ons hou van

Kreefkuier op Lambertsbaai!

Kom geniet vir oulaas kreef aan die einde van die seisoen vir dié lekkerny. By die naweek se Lambertsbaai kreeffees (29 April tot 1 Mei) kan jy weglê aan hierdie luukse en skaars seekos*. 

96

Lambertsbaai hou reeds die afgelope 14 jaar hul jaarlikse gewilde kreef- en kultuurfees en vanjaar is daar nog meer te sien as tevore. Maak jou reg vir stalletjies waar jy kan kies en keur uit die beste Weskuskos en handgemaakte items.

Verkies jy om self jou kreef uit die see te haal, kan jy jou permit by enige poskantoor kry, of by die departement van landbou, bosbou en visserye se kantoor in Kaapstad. Bestudeer die kaart wat jy saam jou permit kry noukeurig om te sien waar die wettige kreeftrek-plekke is.

As jy liewer nie in die koue Weskuswater wil klim nie, maak seker jy koop by iemand met die regte verkoopspermit en bêre jou kwitansie vir ingeval jy voorgekeer word en moet bewys dat jy die kreef wettiglik bekom het.

*Kreef is op die oranje lys van die Suid-Afrikaanse Volhoubare Seekos-inisiatief (Sassi) vir bedreigde spesies. Dit beteken jy moet goed nadink wanneer jy hierdie seekos kies, want daar is rede tot kommer oor die volhoubaarheid van die spesie. 

Kreefslaai is ‘n eenvoudige manier om meer mense met min kreef kos te gee en dié resep is maklik en smaaklik.

Kreefslaai

genoeg vir 4

2 krewe
15 ml sout vir elke 250 ml water, of indien moontlik vars seewater, om die kreef in te stoom.
1 rooi-ui, fyngekap
1 tamatie, fyngekap
125 ml (½k) koljander
2 knoffelhuisies, fyngekap
2 klein groen brandrissies, fyngekap
125 ml (½ k) mayonnaise
125 ml (½ k) crème fraîche

Kreef is op sy beste as dit gaar gestoom pleks van gekook word. Doen dit so: Plaas ‘n draadrakkie onderin die pot of gebruik ‘n stoompot. Kook die soutwater en plaas die krewe op die rakkie in jou pot sodat dit nie aan die water raak nie. Stoom die kreef vir so 15 tot 18 minute. Dis gaar as die dop van die kreef helderrooi raak.

Terwyl die kreef afkoel, berei jy solank die ander bestanddele. Die groente en kruie word alles gemeng, soos vir ‘n tradisionele salsa. Voeg die mayonnaise en crème fraîche by en meng deur.

Laat die krewe heeltemal afkoel. Breek dan die dop en haal die vleis uit. Onthou om die derm in die stert te verwyder. Die meeste van die lekker vleis is in die stert, maar die vleis in die rug en beentjies van groot krewe is ook nie te versmaai nie. Kap die kreefvleis kleiner en meng met die res van die bestanddele.

Eet sommer dadelik, want hierdie slaai raak waterig as hy te lank in die yskas staan.

Groete,

Philippus le Roux