sarie047
Wat eet ons vandag?

Blaarslaai-voupakkies

So heilsaam, net ’n blaar om al die interessante vulsels bymekaar te hou.

genoeg vir 4

• 1 kropslaai (iceberg)
• 2 avokado’s
• ½ komkommer
• 2 wortels, geskil en gerasper
• 400 g oorskiet-hoender, gevlok
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 4 sosatiestokkies

Doopsous
• 125 ml Griekse-styl jogurt
• 125 ml mayonnaise
• 30 ml sterk mosterd
• sout en varsgemaalde swartpeper

Sny kropslaai se kern uit en breek 4 groot blare versigtig los van mekaar. Spoel goed af onder lopende kraan. Droog af met kombuispapier. Hou eenkant. Halveer avokado’s en verwyder pit. Sny in dun skyfies en skep met lepel uit vel in bakkie. Sny komkommer in lang stokkies. Plaas ’n groot blaar op werkvlak. Skep 100 g hoender en ¼ van avokado, komkommer en wortel op blaar. Geur goed met sout en peper. Meng al die bestanddele vir die doopsous met ’n draadklitser in ’n klein mengbakkie. Geur met sout en peper. Skep ’n eetlepel sous op vulsel in blaar. Vou buitekant van blaar na binne en rol styf op in ’n pakkie. Steek toe met ’n sosatiestokkie. Herhaal met res van bestanddele. Pak in met orige doopsous.