sk07appelliefie01
Wat eet ons vandag?

Geroosterde vark met gebakte appels

(6-8 porsies)

  • sowat 1,3 kg gerolde varklies
  • 20 ml droë vinkel
  • 4 knoffelhuisies, fyngedruk
  • sowat 50 ml olyfolie
  • sap van 2 suurlemoene
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
  • 6-8 Granny Smith-appels, ontklok (die pitte verwyder)

Sit die gerolde varklies in ‘n oondroosterpan. Sny kepies bo in die velgedeelte. Stamp die droë vinkel effens fyn met ’n stamper en vysel. Vryf die vinkel en knoffel veral in die kepies van die vel. Bedruip met die olyfolie en suurlemoensap. Geur met sout en vars gemaalde swartpeper. Plaas die pan in ‘n voorverhitte oond teen 180 °C. Nou gaan jy verstaan hoekom ek sê die resep is vir die lui kok – jy los dit vir 2 uur in die oond (terwyl jy rus). Jy kan ná so 1 uur van die vleissap wat uitgekook het met ’n kwassie oor die vleis smeer. Ná 2 uur pak jy die appels om die vleis, bedruip met van die vleissap en rooster verder vir nog 1 uur.

 

Om te drink
Wyn by varkvleis is maklik – jy kan kies tussen droë of effens droë witwyne. As jy rooiwyn verkies, sal enige rooiwyn, behalwe ’n baie swaar rooi, goed by vark pas. Merlot is veral ’n goeie keuse. Probeer gerus Overgaauw Sylvaner of, om die appelgeure na vore te bring, Kanu Chenin Blanc.