Foto deur
Micky Hoyle

Foto deur Micky Hoyle

Wat eet ons vandag?

GEVULDE AARTAPPELS

Die bros skil van die aartappels is heerlik. Jy moet 1 ekstra aartappel bak om genoeg vulsel te hê.

• 5 baie groot aartappels
• 125 g (135 ml) botter, in blokkies gesny
• 60 ml warm melk
• 100 g parmesaankaas, fyngerasper
• hand vol pietersielie, fyngekap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• olyfolie om oor te sprinkel

Verhit oond tot 200 °C. Prik aartappels met ’n vurk en plaas direk op oondrak. Bak aartappels tot 2 uur lank, tot vel baie bros is en dit binne sag is. Haal versigtig uit oond en halveer in breedte. Skep die sagte gaar aartappelvlees versigtig uit en moenie die skildoppies breek nie. Plaas aartappel in mengbak en druk fyn met aartappeldrukker. Voeg botter dadelik by. Bedek botter met warm aartappel en laat staan tot gesmelt. Meng deur met vurk en voeg warm melk by. Meng goed en voeg ¾ van kaas en al die pietersielie by. Geur met sout en peper en meng goed deur.

Plaas nou 8 van die aartappeldoppies op ’n bakplaat. Vul elkeen met aartappelmengsel en sprinkel res van kaas bo-op. Sprinkel klein bietjie olyfolie oor en plaas terug in oond. Oondbak tot kaas gesmelt het en goudbruin is. Sit warm voor.