Foto's deur Micky Hoyle

Foto's deur Micky Hoyle

Wat eet ons vandag?

Hamburger gevul met mozzarella-kaas en gerookte tamatiekonfyt

(8 porsies)
Die verrassing
Die mozzarella-kaas wat in die middel wegkruip, is ’n heerlik sappige verrassing wanneer die gaste die burger sny.

Burger-patty

  • 15 ml olyfolie
  • 1 rooi-ui, baie fyngekap
  • 4 snye witbrood, korsies afgesny
  • 500 g maalvleis
  • 8 – 10 ml sout
  • hele paar draaie varsgemaalde swartpeper
  • 1 eier
  • 100 g pecorino-kaas, fyngerasper
  • hand vol vars koljander, grofgekap
  • 4 dik snye mozzarella-kaas, gehalveer
  • 30 ml olyfolie

Verhit olie in ’n pan. Braai ui tot sag en deurskynend – nie bruin nie. Kap brood fyn in voedselverwerker. Meng al die bestanddele behalwe die mozzarella-kaas en 30 ml olyfolie saam in groot mengbak. Vorm burgers en maak dan ’n holte in middel van elke burger. Druk kaas in en maak die patty baie goed toe. Plaas op bakplaat en dan in yskas vir sowat 30 minute. Verhit oond tot 180 °C. Verhit die 30 ml olyfolie in ’n pan en braai die patties weerskante tot net bruin. Plaas op bakplaat en dan in die oond en oondbraai vir sowat 20 – 30 minute.

Gerookte tamatiekonfyt
As jy nie van ’n gerookte smaak hou nie, laat net die rook-deel in die resep weg.
(8 porsies)

  • 100 g rooksaagsels
  • 1 kaneelstok
  • 3 ster-anyspeule
  • 1,2 kg klein rosa-tamaties
  • 600 g suiker
  • 500 ml witwynasyn

Gebruik ’n groot kastrol waarin ’n vergiettes kan pas. Voer die kastrol uit met tinfoelie – dit vergemaklik die skoonmaakproses. Sit saagsels, kaneel en anyspeule in kastrol. Sit tamaties in vergiettes en dan in die kastrol en maak toe met deksel. As deksel nie dig pas nie, bedek kastrol met kleefplastiek en sit dan deksel op. Skakel stoofplaat aan en wanneer saagsels begin rook, rook tamaties vir net 7 minute. Haal af. Plaas suiker en asyn saam in ’n kastrol en bring tot kookpunt. Voeg tamaties by en laat kook vir sowat 1 uur. Roer nou en dan.

Wenk: Jy kan die konfyt sowat ’n maand in die yskas hou.

Sit só jou burger bymekaar

  • 250 g strepiespek (streaky bacon)
  • 4 rolletjies
  • 40 g bronkors (watercress)

Verhit oond tot 200 °C. Plaas spek op ’n bakplaat wat met tinfoelie uitgevoer is. Sit in oond en rooster tot bros. Ek rooster die spek só omdat dit dan plat bly en nie opkrul nie. Halveer rolletjies en rooster albei kante. Jy gebruik net een helfte per burger. Sit geroosterde rolletjie op bord en sit bronkors bo-op. Plaas ’n warm patty bo-op en skep van die konfyt op. Rond af met spek. Sit jou koepel bo-op en sit dadelik voor.

Maak só die koepel vir gladiator-burger
Koop broskorsdeeg by die winkel – een pak is genoeg vir twee koepels. Gebruik ’n metaalbakkie wat jy in die oond kan plaas. Spuit die buitekant met kleefwerende kossproei en sit dit onderstebo neer op ’n werkoppervlak. Sny lang stroke uit die uitgerolde broskorsdeeg. Sit een strook om die onderkant van die bakkie en las die twee punte met geklitste eier. Sit nog ’n strook om die bokant van die bakkie en las. Die res van die stroke sit jy met eier vas aan die onderste strook, dan aan die boonste strook, bo-oor die bakkie en weer vas waar dit die stroke aan die ander kant van die bakkie kruis – dit sal lyk soos ’n voëlhokkie. Sit deegknoppies op die stroke om soos skroewe te lyk. Plaas op ’n bakplaat en in ’n voorverhitte oond van 180 °C. Bak tot hard en goudbruin – so 30 minute. Laat eers afkoel voor jy dit versigtig van die bakkie afhaal.