Blou-5368
Wat eet ons vandag?

Lamsboud gerooster op roosmaryn

Lam en roosmaryn is beste pasmaats. Jy kan ook hoender só gaarmaak.

genoeg vir 8

• 15 lang takkies roosmaryn
• 2,5 kg lamsboud, aan been
• 10 knoffelhuisies
• 30 ml olyfolie
• 6 ansjovisfilette
• sap en skil van 2 suurlemoene
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 250 ml rooiwyn
• 100 ml botter
• 15 snye brood, fyngekrummel
• hand vol sagte kruie, fyngekap

Verhit oond tot 160 °C. Plaas roosmaryn in oondbraaibak. Gebruik skerp mes en steek 10 gaatjies in die boud. Steek knoffel in die gaatjies. Meng olyfolie, ansjovis, en sap en skil van suurlemoen. Smeer oor lamsboud en geur goed met sout en peper. Gooi wyn oor roosmaryn en plaas vleis boop. Maak bak toe en oondbraai 3 uur of tot boud gaar is (jy kan dit langer oondbraai as jy nie van pienk lam hou nie). Haal uit oond. Meng res van bestanddele en druk die hele mengsel stewig vas bo-op die lamsboud. Plaas terug in oond en bak nog 30 minute. Sit voor met braai-aartappels en pansous (sien wenk).

Wenk
Maak braai-aartappels só: Kook 500 g geskilde baba-aartappels 10 minute. Dreineer. Verhit 500 g eendvet of 500 ml kanola-olie in braaipan tot warm. Gooi halfgaar aartappels in warm vet en braai 8 – 10 minute of tot goudbruin. Dreineer en geur goed.