Feb2016_Sarie-10
Wat eet ons vandag?

Pannekoek-koek

Sit dit teen kamertemperatuur voor met suurlemoen-en-kaneel-roomys.

genoeg vir 8

  • 420 g (750 ml) koekmeel
  • 120 g (150 ml) strooisuiker
  • 5 ml sout
  • 6 eiers
  • 90 ml sonneblomolie
  • 1 050 ml melk
  • 375 ml vars room
  • 600 g donkersjokolade
  • 275 g vars frambose
  • 150 ml winkel-sjokoladesous

Sif die meel, strooisuiker en sout saam in ’n groot mengbak. Klits die eiers, olie en melk saam. Gooi by die droë bestanddele en meng tot ’n gladde beslag. Laat rus vir 10 minute in jou yskas. Verhit ’n 25 cm-braaipan tot warm en spuit met kleefwerende kossproei. Gooi genoeg beslag in die warm pan tot die boom net bedek is. Braai vir 1 minuut en draai die pannekoek om. Braai nog 1 – 2 minute of tot gaar. Hou eenkant. Hou so aan tot al die beslag opgebruik is. Verhit die room tot kookpunt en gooi oor die sjokolade. Roer tot gesmelt en glad. Laat staan buite tot gestol, maar steeds smeerbaar. Smeer een pannekoek met ’n teelepel vol van die sjokolademengsel en plaas tweede pannekoek bo-op. Hou so aan tot al die sjokolade en pannekoeke op is. Rol frambose in kakaopoeier en pak bo-op. Gooi sjokoladesous oor en sit voor saam met die kaneelroomys.