FOTO:Donna Lewis

FOTO:Donna Lewis

Wat eet ons vandag?

Bak dié Spesery-en-sjokoladekoek vir ’n lekker naweek lekkerny

Hierdie Hollands-Indonesiese speserykoek (spekuk) bak jy lagie vir lagie. Dit verg tyd, maar dis maklik.

genoeg vir 1 koek
• 500 g (540 ml) sagte botter
• 15 eiers, geskei
• 500 g (960 ml) versiersuiker
• 175 g (310 ml) koekmeel
• 25 ml kakaopoeier
• 30 ml kaneel
• 15 ml neutmuskaat
• 5 ml naeltjies
• 90 g (100 ml) gesmelte botter
• roomys vir voorsit

Verhit oond tot 170 °C. Voer broodpan van 30 x 10 cm uit met bakpapier en spuit goed met kleefwerende kossproei. Klits botter met elektriese klitser tot lig en romerig – sowat 5 minute. Hou eenkant. Klits eiergele en versiersuiker met elektriese klitser tot dik en romerig, sowat 10 minute. Hou eenkant. Klits eierwitte tot sagte punte vorm. Vou geklitste botter, eierwitte en koekmeel om die beurt met ’n groot metaallepel by eiergeelmengsel in. Verdeel mengsel in twee en vou kakao en speserye by een helfte van beslag in. Skep 125 ml van die ongegeurde beslag in pan en smeer gelyk oor bodem. Bak 5 minute of tot dit begin verbruin en koek gaar is.

Verwyder uit oond en verf bietjie gesmelte botter met kombuiskwas oor koek. Skep 125 ml speseryebeslag bo-op gaar ongegeurde laag. Smeer gelyk en bak weer 5 minute of tot gaar. Verf met botter. Herhaal om die beurt met ongegeurde en speseryebeslag tot die pan vol is. Laat afkoel. Keer uit en sny in dun skywe. Sit voor met roomys.