Kos

10 goed wat jy nié in jou yskas moet hou nie

’n Yskas is ’n wonderlike ding, maar het jy geweet sekere kosse moet jy nie in jou yskas stoor nie?

10 eetgoed wat liefs buite die yskas moet bly

Waatlemoen

Hou jou heel waatlemoen buite vir beter geur en smaak. Heel waatlemoen wat in die yskas gebêre word, sal langer neem om ryp te word en sal ook nie soveel geur ontwikkel soos wanneer dit by kamertemperatuur gestoor word nie.

Heuning

Die yskas is nie die beste plek vir heuning nie. In die yskas vorm dit suikerkristalle wat dit ’n vreemde tekstuur gee. Bêre heuning eerder in jou spens.

Sjokoladesmeer

Hou dié treffer by kamertemperatuur en jy sal dit makliker kan smeer. Die geur is ook meer intens!

Brood

Glo dit of nie, maar jou yskas droog die brood uit. Hou dit eerder op die rak in jou kombuis. As jy jou brood nie onmiddellik wil gebruik nie, vries dit en ontdooi dit weer later.

Neute

Hoewel die yskas keer dat neute galsterig word, is dit steeds beter om dit in 'n lugdigte houer in jou spens te bêre. Alle natuurlike olies en geur sal dan behoue bly.

Steenvrugte

Laat toe dat perskes, appelkose en pruime by kamertemperatuur ryp word. Sodra dit stroopsoet en reg is, kan jy dit in jou yskas stoor.

Aartappels

Koue temperature breek die stysel in aartappels af en maak dit onplesierig soet. Droë en donker stoorplekke is ideaal.

Tamaties

Hoewel die meeste mense glo rooi tamaties hoort in die yskas, is dit nie noodwendig só nie. Tamaties is geneig om melerig en pap te raak in die yskas. Pak dit eerder oop in ’n bak saam met die res van jou vrugte.

Uie

Uie het ’n baie skerp geur wat jou hele yskas gaan aantas. Dis beter by kamertemperatuur in draadrakkies of mandjies wat lug van onder inlaat.

Knoffel

Bêre knoffel eerder buite die yskas om die sterk aroma te behou. Jy wil nie jou yskas ook na knoffel laat ruik nie!