FOTO: Unsplash

FOTO: Unsplash

Kos

7 dinge wat jy móét weet as jy groente en vrugte koop

Ons stap daagliks verby supermarkrakke met perfekte groente en vrugte, verpak in perfekte sakkies. Vrugte is nou heeljaar lank beskikbaar en groentes blink nog voor jy dit gewas het. Maar is ons obsessie met perfekte groente en vrugte dalk die rede hoekom dit nie meer so lekker smaak soos voorheen nie?

Hier’s 7 dinge wat jy moet onthou wanneer jy groente en vrugte gaan koop:

FOTO: Micky Hoyle

FOTO: Micky Hoyle

1. Onperfek is eintlik perfek!

In die Maart-uitgawe van National Geographic word daar geskryf dat groente wat die sogenaamde weggooi-soort is eintlik die beste van die oes is. En ek kan nie meer saamstem nie! Met ’n onlangse besoek aan ’n Elgin-appelplaas vir Inspirasiekos met SARIE het ek by die boer geleer dat die appels wat effens gesonbrand is, eintlik soeter is as die res. Hierdie appels haal nooit die winkelrakke nie omdat hulle nie “perfek” lyk is. Wanneer jy dus vrugte op die mark koop, kies die appels met die liggeel wange!

2.Bêre tamaties buite jou yskas

Al ooit suikersoet tamaties geproe en gewonder hoekom joune nie so smaak nie? Dis dalk omdat jy jou tamaties in jou yskas bêre. Volgende keer wanneer jy tamaties koop, pak dit in ’n mandjie op jou kombuiskas. By kamertemperatuur raak dit mettertyd soeter en smaak dit beter.

 3. Hou jou uie ver van jou aartappels af

Dié stukkie raad het ek gekry terwyl ek geswot het om sjef te word by The Institute of Culinary Arts in Stellenbosch. Jou eerste les as sjefstudent is hoe om groente te sny en te stoor. Al ooit gewonder hoekom jou aartappels so gou groen raak ná jy dit gekoop het? Dis dalk omdat jy dit naby uie bêre. ‘n Aartappel is soos ‘n spons en absorbeer alles rondom hom. Uie is vol ensieme wat die aartappel dan absorbeer – gevolglik raak die aartappel groen en sy smaak word aangetas. Dankie, Sjef October!

4. Groter is nie noodwendig beter nie

Daar is min dinge so aanloklik soos ’n reuse- bloedrooi aarbei. Jy wil hom net optel en eet, maak nie saak of jy meer vir hom gaan betaal nie. Maar as jy kan kies, beveel ek jou aan om eerder die kleiner vrugte te kies, veral bessies en tropiese vrugte. Die kleiner vrugte se smaak is meer intens en gewoonlik ook soeter. Dieselfde geld steenvrugte soos pruime, perskes en appelkose. Die sê-ding is mos nie verniet “dinamiet kom in klein pakkies” nie!

FOTO: Unsplash

FOTO: Unsplash

5. Die verpakking (sakkies) maak die groente en vrugte vrot

As jy wil sorg dat jou groente en vrugte langer hou in die yskas, is dit beter om die produkte uit hul verpakking te haal voor jy dit in die yskas pak – dis nou as die produkte nog heel en onverwerk is. Hoekom? Vog vorm binne-in die verpakking en gaan lê onderin die pakkie, en dít veroorsaak dat jou groente en vrugte vinniger vrot. Onthou ook om dit in die groentelaai te pak, weg van jou vleis af. Al wat in die verpakking moet bly, is die kaas en vleis.

6. Koop wat in seisoen is

Hierdie reël is so oud soos die berge self, maar steeds sien ek my vriende sit groente en vrugte voor wat nie in seisoen is nie. Net oor iets op die supermark se rak is beteken nie dis in seisoen nie. Groente en vrugte wat jy binne seisoen koop, is gewoonlik vars van die boom of plant af en nie maande gestoor en onryp op ’n boot of vliegtuig vervoer nie. Dus is dit soeter, bevat meer nutriënte en is dit boonoop baie goedkoper.

7. Skei groente en vrugte

Daar is ’n rede hoekom baie yskaste twee laaie het vir groente en vrugte, en dis oor jy die twee van mekaar moet skei om te verseker dat dit langer hou. Die meeste sagtevrugte bevat rypmaak-ensieme, wat baie positief is vir die vrugte omdat dit die geur en tekstuur aanhelp. Maar dieselfde ensieme breek groente af en maak die rakleeftyd korter.

FOTO: Mickey Hoyle

FOTO: Mickey Hoyle

Ek sluit af deur ‘n stukkie wysheid van die Britse joernalis Miles Kington oor groente en vrugte te deel: “Kennis is om te weet ’n tamatie is ’n vrug en nie groente nie. Wysheid is om te weet jy sit hom nie in ’n vrugteslaai nie!”

Lees ook