Screen Shot 2016-04-26 at 1.47.23 PM
Kos

7 vreemde koskombinasies wat wérk!

As jy in my kombuis instap, kan jy maar van een ding seker wees: ek glo nie aan al die sogenaamde reëls waarvoor jy moet bang wees nie. Boonop gaan kos oor hoe jy dit geniet en wat vir jou lekker is. Maar ons weet mos sekere dinge gaan eenvoudig nie lekker saam smaak nie, dis net soos dit is. Of is dit?

Ek het 7 koskombinasies gevind wat op die oor vreemd klink, maar probeer dit gerus – dit wérk!

Piesang en grondboontjiebotter op toast

Selfs die koning van rock, Elvis Presley, het graag dié een geniet! En dit staan vandag bekend as Elvis se gunsteling. Ek stem heelhartig saam met hom!  Al wat jy nodig het, is sagte roosterbrood wat bedek is met lepels vol grondboontjiebotter en gebraaide piesang. Koningskos! Jy kan ook soos Elvis maak en gebraaide spek bysit. Kry ons resep hier.

sr0108kos01

Avokado met suiker

SARIE se redakteur Michélle van Breda geniet ’n halwe avokado liggies besprinkel met suiker. Ja, suiker! “Ek gaan sit in die hoekie en eet hom dan met ’n teelepel, net so.” Ek reken sy is reg. Want net soos ons sout oor kos gooi om smaak uit te bring, kan jy suiker by kos gooi om nuwe smake te vorm. Avokado se romerige tekstuur saam met die soet suiker maak hom ’n wenner – onthou, avokado is eintlik ’n vrug en nie ’n groente nie.

Sjokolade by sampioenrisotto

Soos ek hierdie een tik, kan ek al my ma hoor sê: “Nee jong, dié stadskind van ons is nou heeltemal die kluts kwyt!” Ek het die eerste keer hierdie kombinasie in Gordon Ramsay se Maze-restaurant in Londen geproe. Die romerige sampioenrisotto word voorgesit met ’n papierdun stukkie baie bitter sjokolade. Soos jy dit eet, word jou mond gevul met smake van sampioene en heel laaste die byna te bitter van die sjokolade wat agterbly.

Hier’s my weergawe van risotto met sjokolade soos ek gemaak het op Inspirasiekos met SARIE.

risotoot

Die Marmite-tert met wildebeesogies

Vir sommige kossnobs is hierdie resep byna so kommin soos ’n Cremora-tert – maar julle weet mos ek steur my min aan die snobs, want hel, dis lekker! Wanneer die klassieke sponskoek uit die oond kom, word Marmite daaroor gesmeer en cheddar- kaas oorgestrooi. Dit word soms ook voorgesit met wildebeesogies – daai klein ronde koekies met appelkooskonfyt in. Probeer Marie-Louise van Koekedoor-faam se resep. Kry dit hier:

Koekies en marimite

Saffraan en koejawels

Die meeste van ons ken saffraan in sout geregte soos paella of risotto milanese, maar het jy dit al saam met suikersoet koejawels probeer? Ek het orals op die web en kosblogs gelees van die beweging om saffraan in byna elke nagereg te gebruik. Ek het besluit om koejawels in saffraanstroop te posjeer en die resultaat was ongelooflik. Die byna vrank smaak van die saffraan gee soveel meer diepte aan dié vrug. Probeer dit, jy hoef net ’n knippie in te gooi.

Vanielje saam met patats

Selfs vir my het hierdie kombinasie na ’n baie vreemde eksperiment geklink tot ek dit die eerste keer geproe het saam met varklies. Een van my kos-mentors, Richard Carstens, het oornaggeroosterde varklies voorgesit saam met die roomsagte vanieljegegeurde kapokaartappels en ’n baie geurige anyssous. Elke happie was eenvoudig hemels. As jy dit self wil probeer, hier is vanielje saam met patats – so lekker, dit gaan jou lewe verander! Kry hier.

patatsr

 

Appelkooskonfyt en roereier

Dié kombinasie bly steeds my gunsteling-manier om my dag te begin, trouens daar is nie ’n ontbyt wat ek bestel sonder om die appelkooskonfyt nader te klap nie. Hy werk so: rooster doodgewone bruinbrood (soos my ma dit genoem het, goewermentsbrood) smeer hom dan ruim met botter en appelkooskonfyt. Bo-op sit jy sagte roereier of ’n gebakte eier. Altyd witpeper heel laaste. Jou dag sal gevul wees met vreugde!

Het jy enige vreemde kombinasies wat werk? Laat weet my. Ek is reg vir nuwe kos-avonture!