mood kos video brushetta
Kom eet by my

Bruschetta vir die queen

Die Britte eet graag komkommerbroodjies sonder korsies, maar ons Suid-Afrikaners hou van iets met meer om die lyf. Ons het by die Italianers en Franse gaan steel en maak ons eie broodjies vir die koningin se 90ste verjaardag.

Genoeg vir 16 bruschetta-porsies

  • 1 groot Franse baguette
  • olyfolie vir oorsprinkel
  • 1 knoffelknol, oorlangs gehalveer
  • 1 x 350 g-houer roomkaas
  • 200 g kersietamaties, in kwarte gesny
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 200 g skyfies biltong
  • ½ komkommer, oorlangs gehalveer en in skywe gesny
  • 1 avokado, ontpit en blokkies gesny
  • suurlemoensap

Verhit oond se roosterelement tot warm. Gebruik broodmes en sny baguette in 1 cm dik skywe en pak skywe op roosterplaat. Sprinkel olyfolie oor broodjies en plaas onder warm roosterelement tot goudbruin – sowat 1 minuut. Haal uit oond en draai broodjies om. Sprinkel weer met olyfolie en rooster nog 1 minuut tot goudbruin.

Smeer warm broodjies met gesnyde kant van knoffelknol. Pak broodjies op opdienbord. Smeer op elke broodjie ‘n klein bietjie roomkaas. Geur kersietamaties met sout en peper en skep op ‘n paar van die geroosterde broodjies. Pak komkommerskyfies op nog broodjies

Geur avokado met sout en peper en voeg suurlemoensap by. Skep op ‘n paar van die broodjies, maar los genoeg skoon vir die blitong! Pak biltong op oorblywende broodjies. Jy kan self besluit hoe jy die vulsels verdeel, maar in my huis sal ek net blitong- en tamatie-bruschetta maak …

Sit voor met yskoue Pimm’s en drink op die koningin se 90 jaar!