FOTO Yuppie Chef

FOTO Yuppie Chef

Kos

Herman kry 5 lekkerste Oreo-resepte

Die Amerikaanse sjokoladekoekie Oreo, wat al meer as 100 jaar oud is, is veel meer as net ’n lekkerte saam met ’n glas yskoue melk. Dit was al telkemale inspirasie vir nuwe resepte – selfs in my kombuis.

Soek jy deesdae op die internet rond, is daar byna elke dag nuwe video’s of resepte met geure van dié koekie. Hier is 5 resepte wat ek reken jy maar in jou resepteboek kan opneem!

1. Koekies-en-melk-springmielies

As jy baie fênsie wil wees, moet jy ná ete springmielies voorsit. Maar as jy die dag regtig ál die aandag wil trek, moet jy hierdie weergawe met Oreo’s en witsjokolade maak. Dis net 3 bestanddele, maar smaak soos iets uit die hemel! Ek het al persoonlik dié een gemaak.

 

2. Oreo-kaaskoek-kolwyntjies

Vandat ek dié resep die eerste keer gesien het, wou ek dit maak. Die Oreo onderin die kolwyntjie-papier skree dadelik: “Eet my!” Die romerige vulsel bo-op is byna soos die melk waarin ek my Oreo’s wil doop.

 

3. Melkskommel

Verlede jaar het koskenners voorspel dat malvalekkers die nuwe kolwyntjie is, nou meen die ghoeroes dat 2017 die jaar van melkskommels gaan wees. Ek reken as jy melkskommel met Oreo-koekies maak, gaan jou gaste nie gou jou huis wil verlaat nie. Hierdie resep gaan dié naweek op my tafel wees.

 

4. Byna ongebakte Oreo-kaaskoek

Wie kan nee sê vir hierdie resep as jy die foto sien? Nie net wemel die kaaskoek van Oreo’s nie, maar dis ook propvol lepels sjokoladesmeer. Omdat die koek vir baie kort by ’n lae temperatuur gebak word, is die tekstuur lekker romerig.

 

5. Oreo-churros

Reeds sónder Oreo laat dié Spaanse nagereg jou hart smelt. En gooi jy Oreo’s by, kan jy maar enige vorm van dieet vaarwel sê. Ek het nog nie die resep gemaak nie, maar hy is reeds op my inkopie-lys vir my volgende uithaal-en-wys-ete!

FOTO http://www.delish.com/food-news/a44897/new-oreo-churros/

FOTO Delish