FOTO:Micky Hoyle

FOTO:Micky Hoyle

Kos

Aartappelslaai met blomkool en prosciutto

Dis die prosciutto (ingesoute, gedroogde ham) wat ek byvoeg wat hierdie slaai so uitsonderlik maak. As jy nie rooi aartappels kan kry nie, vervang dit met gewone baba-aartappels.

genoeg vir 6 – 8

• 700 g rooiskil-baba-aartappels
• 1 kop pers blomkool
• 140 g prosciutto
Sous
• 185 ml olyfolie
• 45 ml witwyn-asyn
• 5 ml fyngekapte knoffel
• 15 ml Dijon-mosterd
• sout en varsgemaalde swartpeper

Plaas aartappels in ’n kastrol en bedek met water. Bring water tot kookpunt op stoofplaat. Kook aartappels tot sag. Meng intussen al die bestanddele vir die sous. Geur met sout en peper. Dreineer aartappels in ’n vergiettes en halveer terwyl hulle nog warm is. Gooi sous dadelik oor en laat afkoel.

Breek blomkool in stukkies en plaas in ’n groot bak. Gooi kookwater oor en laat staan sowat 5 minute tot net sag. Dreineer en laat afkoel. Sny prosciutto in stukke. Meng afgekoelde blomkool en prosciutto versigtig met aartappels. Hou in yskas tot benodig.