FOTO Lee Malan SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Bykos

Vier-kaas-gevulde pimento-rissies

Hierdie gereg is lekker ryk en romerig! Jy kan dit net so voorsit as voorgereg of met slaai as hoofgereg.

genoeg vir 4

• 2 x 250 g-houers mascarpone-kaas
• hand vol basiliekruidblare, gekap
• paar grasuie, gekap
• 50 g parmesaankaas, gerasper
• 50 g pecorinokaas, gerasper
• 100 g pikantrissies, gekap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 4 pimento-soetrissies, gehalveer
• 100 g mozzarella-kaas, in skywe gesny

Verhit oond tot 200 °C. Meng mascarpone, basiliekruid, grasuie, parmesaan- en pecorinokaas en pikantrissies (peppadew) saam. Geur met sout en peper. Plaas pimento-soetrissies op ’n bakplaat, skep mascarpone-vulsel binne-in elkeen en pak mozzarella-kaas bo-op. Bak in oond vir sowat 20 minute tot bruin van kleur. Geniet saam met groenslaai.

Om te weet
Die soetrissie (green pepper) het die soetste brandsmaak en die jalapeño en geel habanero sit ’n groot vuur in jou mond. Pimentorissies is hartvormig en kan tot 10 cm lank wees. Rissies is een van die “superkosse” van die dekade, met talle gesondheidseienskappe. Die heerlike pikantrissie (peppadew) is die eerste keer deur ’n boer van Limpopo ontwikkel.

Hierdie is ’n lekker voorgereg vir jou uithang-spyskaart. Eet hiermee saam:

Hoofgereg: Lamsteak met kreef

Nagereg: Amandelkoekies