FOTO Donna Lewis

FOTO Donna Lewis

Bykos

Aartappel-krokette

Jy kan ook ekstra krokette maak en die deegballetjies vries. Braai van bevrore af wanneer jy dit nodig kry.

genoeg vir 16

• 40 g (45 ml) botter
• 30 ml koekmeel, plus ekstra vir rol
• 2 aartappels, geskil en gekook tot gaar
• 250 g bruin sampioene, baie fyngekap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 2 eiers, liggies geklits
• 150 g broodkrummels
• olie vir diepbraai

Verhit botter in middelslagpot tot warm. Gooi koekmeel by en roer met draadklitser tot goed gemeng. Hou aan roer vir 3 minute. Verwyder van hitte en voeg gaar aartappels by. Druk fyn met aartappeldrukker en meng goed. Voeg sampioene by en meng deur. Geur goed met sout en peper. Vorm balletjies so groot soos okkerneute. Rol in ekstra meel, doop in eier en rol in broodkrummels.

Verhit olie tot warm en diepbraai balletjies vir 5 – 8 minute of tot goudbruin en gaar. Dreineer en sit warm voor.

Laai jou inkopielys af as ’n JPEG.