sk08_2risotto06a
Bykos

Basiese risotto

(4 porsies)

  • 30 ml botter
  • 15 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 4 handevol arborio-rys
  • 2 ml borrie
  • 200 ml droë witwyn (ek gebruik altyd ’n sauvignon blanc)
  • sowat 1 liter hoenderaftreksel
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 50 g parmesaankaas, fyngerasper
  • 15 ml botter

Stap vir stap

Stap 1

Smelt die 30 ml botter en olie saam in ’n pan. Braai die fyngekapte ui tot sag en deurskynend.

Stap 2

Voeg die arborio-rys en borrie by. Braai vir sowat een minuut.

Stap 3

Gooi die witwyn by, en onthou om heeltyd te roer. Die wyn sal binne sowat ’n minuut wegkook.

Stap 4

Gebruik ’n soplepel en voeg die hoenderaftreksel lepel vir lepel by. Jy moet aanhou roer tot die vloeistof byna geabsorbeer is. Voeg dan die volgende lepelvol by. Dit sal altesaam sowat 20 – 25 minute neem. Geur met sout en peper. Die Italiaanse manier is om die rys nog effens hard voor te sit – ek sê jy kook risotto tot jy tevrede is met hoe sag of hard dit is. Onthou net dat die aftreksel nie heeltemal moet wegkook nie – daar moet nog ’n effense sous wees. Dit maak die risotto lekker romerig. Maar as jy voel die risotto is perfek en daar is aftreksel oor, moenie nog byvoeg nie.

Stap 5

Wanneer die risotto reg is, voeg jy die gerasperde kaas en die 15 ml botter by en roer goed deur. Sit dadelik voor.