FOTO Micky Hoyle SARIE KOS April/Mei 2014

Bykos

Bloubessiekonfyt

Vars bloubessies is nie dwarsdeur die jaar beskikbaar nie, maar bevrore bessies werk net so goed as jy konfyt wil kook.
Genoeg vir 4 bottels met volume van 285 ml

• 1080 g bevrore bloubessies
• 1080 g (1350 ml) suiker
• 30 ml suurlemoensap

Plaas al die bestanddele in ’n groot kastrol. Bring tot kookpunt oor matige hitte terwyl jy roer – die suiker moet gesmelt wees voor die mengsel begin kook. Draai die hitte af sodra die kookproses begin. Staan heeltyd by die kastrol om die skuim wat bo-op dryf af te skep. Laat oop prut vir 1½ uur. Begin ná ’n uur om konfyt te toets. Plaas ’n piering vir 15 minute in die vrieskas.Haal uit en gooi ’n bietjie warm konfyt daarin. Laat staan 5 minute. Trek jou vinger deur die konfyt. As die konfyt nie in die opening terugvloei nie, is dit reg. Skep warm konfyt in gesteriliseerde bottels en maak styf toe.