sk0909resep_swop03
Bykos

Botterskorsie-wafels

Ons ken wafels met stroop, room of roomys. Nou maak jy klein botterskorsie-wafels en sit dit voor as voorgereg.

16 klein wafels

  • 250 g geskilde botterskorsie, in blokke gesny
  • 250 ml water
  • 180 g (320 ml) koekmeel
  • 15 ml bakpoeier
  • 2 ml sout
  • 150 ml melk
  • 2 eiers, geskei
  • 50 ml gesmelte botter
  • 100 g botter

Kook botterskorsie in die 250 ml water tot sag. Dreineer en verwerk tot ’n gladde pasta. Sif droë bestanddele saam. Klits melk, botterskorsie-puree, eiergele en gesmelte botter saam. Voeg by droë bestanddele en meng goed. Klits goed om klonte te keer. Klits eierwitte styf en vou in. Verhit ’n wafelpan. Skep van die mengsel nét in die middel van die pan – so sal jy ’n klein wafel kry. Braai tot bros en gaar. Hou warm. Om voor te sit: Smelt die 100 g botter en laat prut tot swart korreltjies daarin vorm. Jy kan vir elke persoon ’n stapeltjie maak van so drie wafels, bedruip met die botter.

Om te drink
’n Koue glasie vonkelwyn. Probeer Goedverwacht Cuvée Brut, dis vol tropiese vrugtegeure.