Foto deur Lee Malan SARIE KOS JUNIE/JULIE 2013

Bykos

Gebakte fontina-kaas met sampioene

Hierdie gereg is regtig ʼn ryk besigheid, Maar dis so lekker! Kan voorgesit word as voorgereg saam met brood of as maaltyd met brood en slaai.
(genoeg vir 4)
Baktyd: 20 minute

  • 8 groot portobello-sampioene, in repe gesny
  • 4 knoffelhuisies, in repe gesny
  • 2 takkies roosmaryn, blare verwyder
  • 30 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 100 g fontina-kaas, in blokkies gesny
  • brood van jou keuse, gerooster

Verhit die oond tot 200 °C. Sit die sampioene, knoffel en roosmaryn in ’n oondpan of -bak, en sprinkel olyfolie oor. Geur met sout en peper en bedek met kaasblokkies. Plaas in oond tot gesmelt en bruin van kleur. Geniet saam met brood en ’n glasie witwyn.

Om te weet
Fontina is ’n Italiaanse kaas wat van beesmelk gemaak word en ’n melkvetinhoud van omtrent 45% het. ’n Jong fontina het ’n sagte tekstuur en is ideaal vir fonduegeregte gemeng met room. Die neuterige smaak pas perfek by sampioene.