Gemarineerde Beet

FOTO: Donna Lewis

Bykos

Gemarineerde beet

Kyk by jou supermark vir interessante beet. Jy kry dit deesdae in verskillende kleure.

genoeg vir 6

• 12 klein baba-bete (geel)
• 150 ml olyfolie
• 50 ml korrelmosterd
• + sout en varsgemaalde swartpeper

Gebruik mandoliensnyer en sny beet in papierdun ringe. Hou in yswater terwyl jy res van slaai berei. Meng olyfolie en korrelmosterd in groot mengbak met draadklitser. Dreineer gesnyde beet en voeg by mosterdmengsel. Geur goed met sout en peper en meng deur. Sit voor met die gebakte forel en brood.

3 beetsmake

Sout beet

Verhit oond tot 180 °C. Plaas heel bete op oondroosterplaat en bedek heeltemal met growwe sout. Bak vir 2 uur. Breek sout oop, haal beet uit en skil. Plaas geskilde beet op slaaibord en sprinkel olyfolie, swartpeper en 100 g parmesaan-skaafsels oor. Sit voor.

Asyn-beet

Kook 12 bete tot gaar, skil en rasper grof. Bring 500 ml wit asyn, 400 g (500 ml) suiker500 ml water en 20 ml heel komyn tot kookpunt en gooi gerasperde beet by. Laat kook vir 5 minute. Skep beet in skoon glasflesse en vul tot bo met vuurwarm asynmengsel. Seël met deksel en laat afkoel. Jy kan dit tot 2 weke in die yskas hou.

Soet beet

Verhit oond tot 180 °C. Rasper 2 groot ongeskilde rou bete fyn. Gebruik sjokoladekoekmengsel uit ’n boks en maak deeg aan volgens aanwysings. Voeg beet by beslag en verdeel mengsel tussen 12 holtes van ’n standaard-kolwyntjiepan. Bak vir 15 – 20 minute. Laat koel af en versier met roomkaas.