Bykos

Geroosterde rooi soetrissie-patee

(6 porsies)

  • 4 rooi soetrissies
  • 2 knoffelhuisies
  • 15 ml olyfolie
  • 250 g roomkaas
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit jou oond tot 220 °C. Plaas die soetrissies en knoffel in ’n oondbak en sprinkel die olyfolie oor. Rooster in die oond tot die soetrissies begin swart word, en draai dan om sodat hulle weerskante rooster. As die tweede kant ook begin swart word, haal uit die oond en maak die oondbak dadelik toe met kleefplastiek. Die soetrissies sal “sweet” sodat jy die vel maklik kan aftrek. Laat staan vir sowat 20 minute en trek die velle af. Sny oop en verwyder die pitte. Plaas die soetrissies, knoffel en roomkaas in jou voedselverwerker en meng tot fyn. Geur met sout en swartpeper.