Foto deur Micky Hoyle
SARIE KOS Augustus/September 2014

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS Augustus/September 2014

Bykos

Hoenderlewer-patee

Ons het in ’n wonderlike woonstel in Parys gebly. Een aand het ek patee en brie-kaas vir ete gaan koop. Met ’n lekker vars Franse brood daarby het jy niks meer nodig nie, behalwe ’n goeie glas rooiwyn.

Genoeg vir 6 – 8
• 30 ml olyfolie
• 25 g (30 ml) botter
• 1 rooi-ui, fyngekap
• 3 knoffelhuisies, fyngekap
• 750 g hoenderlewertjies
• 3 takkies vars tiemie se blaartjies
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 50 ml brandewyn
• 250 ml room
• 125 g (135 ml) botter
• ekstra takkies vars tiemie vir garnering

Verhit olie en botter saam in ’n groot pan. Voeg ui en knoffel by en braai tot sag. Voeg hoenderlewertjies en tiemieblaartjies by en braai sowat 10 – 15 minute. Die lewertjies moet nog pienk in die middel wees. Geur met sout en peper. Voeg brandewyn by en braai lewertjies nog so 2 minute. Haal af van hitte en laat effens afkoel. Skep alles in ’n voedsel-verwerker of versapper. Verpulp en voeg room by. Meng tot glad. Skep in ’n pateebak en laat afkoel. Smelt botter en gooi bo-op patee. Garneer met vars tiemietakkies en laat staan oornag in yskas. Sit voor met Franse brood, brie-kaas en baba-argurkies.