Bykos

Kaas-en-kruiebrood

Maak jou Kerskrans van brood!

genoeg vir 6

• 330 ml louwarm water
• 1 x 10 g-sakkie kitsgis
• 10 g sout
• 20 ml heuning
• 30 ml olyfolie
• 500 g (890 ml) koekmeel
• 1 x 120 g-bakkie, basiliekruidpesto
• 50 g cheddarkaas, gerasper
• 50 g parmesaankaas, gerasper

Plaas water, gis, sout, heuning en olyfolie in menger se mengbak. Gooi ⅔ van meel by en meng met deeghaak by matige spoed. Gooi laaste ⅓ van meel geleidelik by en meng tot stywe, kniebare deeg. Verhoog mengerspoed en knie 8 – 10 minute of tot ’n gladde, elastiese mengsel. Plaas deeg in groot bak wat met sonneblomolie gesmeer is. Bedek met kleefplastiek en laat rys op warm plek vir 30 – 40 minute of tot dubbel in volume. Knie af. Herhaal proses drie keer. Verhit oond tot 220 °C. Rol deeg op meelbestrooide werkvlak uit in lang reghoek, sowat 5 mm dik. Plaas op bakpapier wat goed met kleefwerende kossproei gespuit is. Merk die deeg in die lengte in 3 gelyke dele, smeer pesto op middelste derde en strooi kaas oor. Gebruik skerp mes en sny aan weerskante van die vulsel 1 cmrepies in die deeg tot teenaan die vulsel. Vou die repe na die middel van die deeg sodat die repe mekaar oorkruis en ’n vlegsel vorm. Vorm ’n krans uit die deegvlegsel (sien foto) en trek dit met papier en al tot op ’n bakplaat. Bak 20 – 25 minute of tot goudbruin. Sit voor.