sr1305_koshoof_12_
Bykos

Maak jou eie botter só

genoeg vir 300 g

• 500 ml dubbeldik room
• 10 ml sout

Plaas bestanddele in elektriese menger se bak en klits op medium-spoed tot room verdik, sowat 2 – 3 minute. Stel spoed hoër en hou aan klits tot mengsel in twee verdeel. Gooi mengsel deur ’n sif en dreineer die karringmelk af. Plaas botter in skoon bak en meng met houtlepel tot gladde, romerige mengsel. Vorm in blok, bedek met waspapier en verkoel tot ferm.

Gebruik só
Gebruik altyd botter en olie om die helfte as jy iets wil roerbraai. Die olie keer dat die botter brand voor jou groente of vleis gaar is.

Jou gesondheid
Botter is ’n diervet en die meeste mense assosieer dit nie met gesond eet nie. Maar jou liggaam het ook ’n bietjie diervet nodig en jy kry dit nie in verwerkte vette, soos margarien, nie. Gebruik botter matig. Een teelepel botter gee kos meer smaak as een teelepel margarien – sonder te veel skade.