Bykos

Maak jou eie mascarpone só

(genoeg vir 500 g)

  • 500 ml dubbeldik room
  • 15 ml suurlemoensap

Voer ’n meelsif met ’n dubbellaag melkdoek uit en plaas oor ’n glasbak. Bring pot met water tot kookpunt en plaas ’n metaalbak bo-op. Gooi room in bak en verhit tot 90 °C (as jy nie ’n termometer het nie: dis wanneer stoom bo die room begin verskyn). Voeg suurlemoensap by. Roer tot room begin verdik en dit lyk of dit gaan skif. Gooi mengsel in sif met melkdoek en plaas in yskas vir 24 uur tot dik en verkoel.

Gebruik só

Maak binne 5 minute kaaskoek deur 500 g mascarpone, 60 ml versiersuiker en 10 ml vanieljegeursel te meng. Skep op skywe sponskoek en sit voor.

Jou gesondheid

Mascarpone bevat baie vet – maar anders as wat die meeste mense dink, bevat suiwel nie net slegte vet nie. Mascarpone bevat ook kalsium en vitamien A. Kalsiumabsorbsie vanaf ’n voedselbron – soos mascarpone – is ideaal. ’n Dieet wat te min diervette bevat, is ook arm aan vitamien A.