Bykos

Mungboontjie-dhal

(6 – 8 porsies)

  • 190 ml gesplete mungboontjies, sonder velle
  • 1,5 liter water
  • 10 ml borrie
  • 5 ml koljandersaad, fyngemaal
  • 10 ml vars gemmer, fyngekap
  • 5 ml vars groenbrandrissie, fyngesny
  • 5 kerrieblare
  • 30 ml sonneblomolie
  • 5 ml swart mosterdsaad
  • 5 ml komynsaad
  • 5 ml fenegrieksaad (fenugreek seed) (koop by ’n Indiese speserywinkel)
  • 250 ml tamatie, heeltemal fyngedruk
  • 1 ml geel asafoetida-poeier (koop by ’n Indiese speserywinkel)
  • 5 ml sout
  • 15 ml vars koljanderblare, gekap

Was en dreineer die mungboontjies. Plaas die boontjies, water, borrie, koljandersaad, gemmer, brandrissie en kerrieblare in ’n swaar drieliter-kastrol. Bring tot kookpunt op ’n warm plaat terwyl jy af en toe roer. Draai die hitte af na medium-laag, bedek die kastrol met ’n deksel en kook vir een uur, of tot die boontjies sag is. Druk die boontjies fyn en voeg, indien nodig, water by om ’n dun, romerige tekstuur te gee. Laat dit eenkant staan. Verhit die sonneblomolie in ’n klein kastrolletjie oor medium hitte. Braai die mosterdsade tot hulle begin krakel en spring. Voeg die komyn- en fenegrieksaad by en braai tot ligbruin. Voeg die fyngedrukte tamaties by, en daarna die asafoetida-poeier, en kook oor medium hitte tot die tamatie gaar is. Meng die boontjiemengsel met die tamatiemengsel. Voeg sout by en verwyder van hitte. Laat staan die dhal vir ’n paar minute sodat die geure kan meng. Voeg die vars koljanderblare by, roer deur, en sit warm voor.