Foto deur Lee Malan SARIE KOS FEB/MAART 2013

Bykos

Oondgebakte eiervrug(baba ganoush)

As jy van eiervrug hou, is dié patee uit die Middel-Ooste net reg vir jou. Die paprika gee dit ʼn sagte rooksmaak.
(genoeg vir 6)
Baktyd: 20 – 25 minute

  • 3 eiervrugte, gehalveer
  • 6 knoffelhuisies, elk in 3 skywe gesny
  • 60 ml olyfolie
  • 1 x 400 g-blik cannellini-boontjies
  • sap en skil van 1 suurlemoen
  • 20 ml gerookte paprika
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit oond tot 180 °C. Plaas eiervrughelftes met gesnyde kant na bo op bakplaat. Gebruik skerp mes en druk 18 gaatjies oral in die vleis van die eiervrug. Druk skyfies knoffel in die gaatjies. Sprinkel olyfolie oor en plaas in warm oond. Bak 20 – 25 minute of tot vleis sag en gaar is. Skep sagte vleis uit die skil van die eiervrug en gooi in mengbak. Voeg res van bestanddele behalwe geurmiddels by en puree met elektriese handmenger (stick blender) op hoë spoed tot gladde mengsel. Geur goed met sout en swartpeper. Laat afkoel in yskas tot yskoud. Sit voor as patee saam met warm brood.