Blou-5343
Bykos

Oondgebakte eiervrug

Dié romerige doopsous is byna soos hoemoes.

genoeg vir 6

• 3 eiervrugte, gehalveer
• 6 knoffelhuisies, elk in 3 skywe gesny
• 60 ml olyfolie
• 1 x 400 g-blik cannellini-bone
• sap en skil van 1 suurlemoen
• 20 ml gerookte paprika
• sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit oond tot 180 °C. Plaas eiervrughelftes met gesnyde kant na bo op bakplaat. Gebruik skerp mes en druk altesame 18 gaatjies oral in die vlees van die eiervrughelftes. Druk ’n skyfie knoffel in elke gaatjie. Sprinkel olyfolie oor en plaas in warm oond. Bak 20 – 25 minute of tot vlees sag en gaar is. Skep sagte vlees uit die skil van die eiervrugte en gooi in mengbak. Voeg res van bestanddele behalwe sout en peper by en maak met elektriese staafmenger by hoë spoed fyn tot gladde mengsel. Geur goed met sout en swartpeper. Laat in yskas afkoel tot yskoud. Sit voor as patee saam met warm brood van jou keuse.