Micky Hoyle

Bykos

Parmesaan met pere gekook in port

Die port geur die pere baie lekker en die donkerrooi kleur van die gekookte pere maak dit ’n fees op die bord. Jy kan dit ook as nagereg voorsit.
genoeg vir 6

  • 6 pere
  • 12 g (25 ml) mielieblom
  • 1 bottel (750 ml) rooi port
  • 110 g (140 ml) suiker
  • 1 kaneelstok
  • 2 peule ster-anys
  • skil van 1 lemoen

Skil die pere met ’n groenteskiller, maar hou die steeltjie aan. Sit in ’n mengbak met koue water en sowat 5 ml sout. Dit sal keer dat die pere bruin word. Plaas mielieblom in ’n bakkie en voeg sowat 50 ml port by. Meng tot gladde pasta en hou eenkant. Gooi res van die port, suiker, kaneel, ster-anys en lemoenskil in ’n groot kastrol. Verhit en roer tot suiker opgelos is. Bring tot kookpunt en plaas pere versigtig in. Verlaag hitte effens. Sit ’n stuk bakpapier direk bo-op die pere in die kastrol. Laat prut 20 – 30 minute. Druk ’n dun toetspennetjie in die pere om seker te maak dis sag. Skep versigtig uit met ’n gaatjieslepel. Voeg mielieblompasta by portstroop en roer goed. Laat prut oop tot dit verdik. Doop pere in die dik stroop en plaas op opdienbord saam met parmesaankaas.