Polenta met pesto-sampioene

Polenta met pesto-sampioene FOTO Micky Hoyle

Bykos

Polenta met pesto-sampioene

Jy kan die polenta al die vorige dag maak en in die yskas hou.

POLENTA
• 1 liter water
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 250 ml polenta
• 40 g (45 ml) botter

SAMPIOENE
• 15 ml botter
• 500 g sampioene, in kwarte gesny
• 4 baba-preie
• 125 ml room
• 15 ml basiliekruid-pesto
• sout en varsgemaalde swartpeper
• sowat 50 ml olyfolie
• 50 g parmesaankaas
• hand vol bronkors (watercress)
• vars basiliekruidblare

Polenta Gooi water in ’n kastrol en bring tot kookpunt. Geur met sout en peper. Haal kastrol af van die stoofplaat en voeg polenta stadig by terwyl jy heeltyd roer met ’n ballonklitser. Roer tot glad. Plaas terug op baie lae hitte en laat prut sowat 5 minute tot dik. Smeer bak van 19 x 15 cm met botter. Gooi polenta in bak en laat staan tot koud. Maak bak toe met kleefplastiek en hou in yskas tot benodig. Sampioene Smelt botter in pan en braai sampioene sowat 5 minute. Sny punte af van preie en halveer in lengte. Sny in skyfies en plaas in ’n vergiettes. Spoel goed af met koue water om van al die sand ontslae te raak. Voeg preie by sampioene en braai tot sag. Voeg room en pesto by en geur met sout en peper. Laat prut oop tot sous verdik het. Hou warm eenkant.

Verhit oond se roosterelement. Keer polenta uit op ’n houtplank en sny in blokke van sowat 9 x 6 cm. Sprinkel helfte van olyfolie op ’n bakplaat en plaas polenta-blokke bo-op. Sprinkel res van olyfolie booor en plaas onder rooster-element. Oondrooster tot bros en goudbruin en draai versigtig om. Oondrooster aan ander kant tot goudbruin en bros. Plaas blokke op opdienborde en skep sampioene bo-op. Gebruik ’n groenteskiller en maak skaafsels van die parmesaankaas. Plaas skaafsels op blokke en garneer met bronkors en basiliekruidblare. Geur met nog swartpeper.