Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Bykos

Risotto-en-mozzarella-kaaskoekies

Die koekies is ʼn baie lekker voorgereg, maar jy kan dit ook saam met ʼn heerlike bredie eet. As jy dit as bygereg maak, laat jy die mozzarellakaas en broodkrummels weg en jy sit dit nie as aparte koekies voor nie.
(Sowat 10 koekies)

  • 1 sakkie saffraan
  • 15 g (15 ml) botter
  • 15 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 500 ml arborio-rys
  • 250 ml witwyn
  • 2 liter warm hoenderaftreksel
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 130 g parmesaankaas, fyngerasper
  • 100 g mozzarella-kaas, in blokke van sowat 3 x 2 cm gesny
  • sowat 500 ml broodkrummels
  • 750 ml sonneblomolie
  • basiliekruid-mikrokruie

Plaas saffraan in klein bakkie en gooi sowat 30 ml kookwater oor. Laat staan sowat 20 minute tot die kleur van die water diep-oranje is. verhit botter en 15 ml olyfolie saam in ’n diep pan of kastrol. Voeg ui en knoffel by en braai tot sag en deurskynend. Die ui moenie bruin braai nie. Voeg rys by en braai sowat 1 minuut terwyl jy roer. Voeg wyn by en hou aan roer. Die wyn moet feitlik weggekook wees voor jy die aftreksel begin byvoeg. Voeg saffraanwater by. Gebruik ’n sopskeplepel om die aftreksel by te voeg. Skep een lepel aftreksel op ’n slag by die rys en hou aan met roer. Herhaal tot rys sag is en aftreksel op is. Die tekstuur van ’n risotto moet nog effe souserig wees, maar vir hierdie gereg moet die meeste van die aftreksel weggekook wees. geur met sout en peper. Haal van hitte af en voeg gerasperde parmesaankaas by en meng goed. Die hele proses tot hier sal so 40 minute duur. Laat heeltemal koud word. Verdeel mengsel in 10. vorm koekies en druk ’n stuk mozzarella in die middel van elkeen. rol elke koekie in broodkrummels en plaas op bakplaat. Plaas eers in yskas vir sowat 30 minute. Verhit 750 ml olie in diep kastrol. Plaas een koekie op ’n gaatjieslepel. Laat sak in warm olie, maar hou die koekie op die lepel. Braai tot bros en goudbruin. Haal uit olie en dreineer op kombuispapier. Hou warm en maak die res. Sit warm voor en sprinkel mikrokruie oor.