Bykos

Rissie-en-suurlemoen groen tapenade

  • 500 ml ontpitte groen olywe
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 15 ml Dijon-mosterd
  • skil en sap van 1 groot suurlemoen
  • 125 ml amandelvlokkies
  • 60 ml goeie olyfolie
  • 1 groen brandrissie (verwyder pitte om dit minder branderig te maak)
  • 30 ml kappertjiesaad (capers), afgespoel en gedreineer
  • 2 gekapte ansjovissies (die goeie soort in glasflessies)

Plaas in ’n voedselverwerker en verwerk tot medium-fyn (dit moenie ’n pappery wees nie.) Proe, en geur na smaak. As dit te dik is, verdun met ’n bietjie water. Skep in ’n fles en hou in die yskas.

Wenke
Ansjovis en kappertjiesaad gee ’n soutigheid. Indien jy verkies om dit nie te gebruik nie, moet die tapenade na smaak gesout word.

Vars witbroodkrummels kan bygevoeg word om dit te “rek”.

Varieer deur sowat 5 ml opgekapte vars kruie, soos pietersielie of roosmaryn, by te voeg.

Oorskiet-tapenade kan oor visfilette gesmeer word voor jy hulle bak.