sk08_2indies03_heel_links
Bykos

Rys met amandels en ertjies

(4 – 6 porsies)

  • 250 ml basmati-rys, of enige ander langkorrel-rys
  • 4 groen kardemomsade
  • 45 ml kookolie
  • 1 kaneelstokkie, so 4 cm lank
  • 6 heel naeltjies
  • 80 ml rou amandels, in stokkies gesny
  • 500 ml kookwater
  • 4 ml sout
  • 1 ml borrie
  • 250 ml vars of bevrore ertjies

Was die rys versigtig en dreineer. Stamp elke kardemomsaad liggies om dit te kneus. Verhit die olie in ’n tweeliter-kastrol oor medium-lae hitte. Braai die gekneusde kardemomsade, kaneelstokkie, naeltjies en amandels in die olie tot die amandels lig-goudbruin word. Voeg die rys by en braai vir 2 minute of totdat die ryskorrels witterig raak. Voeg die kookwater, sout en borrie by. As jy vars ertjies gebruik, gooi hulle ook nou by, maar bevrore ertjies moet eers bygevoeg word nadat die rys tien minute gekook het. Roer, stel die plaat op hoog en laat die water kook. Draai dan dadelik die hitte af na laag, bedek met ’n styfpassende deksel en laat saggies prut vir 15 – 20 minute, sonder om te roer, of tot al die water geabsorbeer is en die rys sag en vlokkerig is. Sit warm voor.