Foto deur Lee Malan SARIE KOS FEB/MAART 2013

Bykos

Sesam-en-basilietzatziki

Kyk in supermarkte vir soja-jogurt, wat nes gewone suiweljogurt smaak. Danksy die soja-jogurt kan mense met laktoseprobleme ook saameet as jy tzatziki vir jou tapas tafel maak.
(genoeg vir 6)
Roostertyd: 2 – 3 minute

  • 2 groot komkommers
  • 300 g (250 ml) soja-jogurt
  • sap en skil van 1 suurlemoen
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 8 basiliekruidblare, grofgekap
  • 2 takkies dille, fyngekap
  • 100 g wit sesamsade
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Gebruik fyn kant van die rasper en rasper komkommer in ’n meelsif. Druk met jou hand al die water uit die komkommer. Gooi water weg en plaas komkommer in mengbak. Voeg res van bestanddele by behalwe sesamsade en geurmiddels. Meng goed. Rooster sesamsade sowat 2 – 3 minute in warm pan tot goudbruin. Voeg by tzatziki en meng. Geur goed met sout en peper. Plaas in yskas tot yskoud en sit voor.

Wenk
Sommige mense wat vir laktose sensitief is, kan wel jogurt eet. As jy een van hulle is, kan jy die sojajogurt met Griekse jogurt vervang. Maak seker jy kies een met lewende kulture, want dit help jou liggaam om die laktose in die jogurt makliker te verwerk.