img_20130317_202817
Bykos

Só kook jy met tamaties!

Groen, geel, oranje en natuurlik bloedrooi tamaties is heeljaar in die winkels en daar is net ‘n paar eenvoudige riglyne om met tamaties te kook.

Begin deur die regte tamatie te kies. Bloedrooi tamaties is altyd die soetste. Wanneer jy nie mooi rooi tamaties kan opspoor nie, moenie skaam wees om ’n blikkie tamaties te gebruik nie – jy is nie goedkoop nie maar slim! Wanneer jy tamaties wil rooster, is babatamaties of ranktamaties die beste. Vir ‘n eksotiese verskeidenheid van kleur en vorm kan jy by Woolworths se kosafdeling inloer.Pasmaats

Kruie: pietersielie, tiemie en basiliekruid

Neute: dennepitte

Geurmiddels: knoffel, rooi-uie, rissie en soetrissie

Wenk: My ma het my geleer dat ‘n paar druppels Worcestersous altyd nodig is by jou tamatiegereg!

Liezl se onthou-dinge

  • Wanneer jy tamaties in ’n warm gereg gebruik, verwyder die vel. Dit kan maklik gedoen word deur ’n kruisie op die tamatie se onderkant te sny, dit vir 20 sekondes in kokende water te dompel en dan in yswater te sit. Die velle kan dan maklik afgetrek word.
  • Wanneer jy tamaties sny vir ’n slaai, sny vertikaal sodat die sappige pulp behoue bly.
  • Proe altyd aan die kos om te kyk of dit nie ’n teelepel suiker nodig het nie, want tamatiegeregte kan dikwels taamlik suur wees.
  • Trek altyd ’n riffelmes (serrated knife) nader wanneer jy tamaties sny, en moenie ’n aluminiumpot gebruik nie – dit reageer met die tamatie en gee ’n slegte smaak aan die gereg.
  • Voeg altyd tamatiepuree by net nadat jy die uie gesweet het (voordat jy ander vloeistof byvoeg) en kook dit 1 – 2 minute. Die proses pincage, soos die Franse dit noem, karamelliseer die suikers in die tamatie en verminder die suurheid.

Liezl se resep

Spaansetamatie-en-chorizo-pasta
genoeg vir 4

  • 500g pasta
  • 15 piekeluitjies, gehalveer
  • 500 g babatamaties, heel
  • 4 chorizo-worse, in ringe gesny
  • 30 ml olyfolie
  • 30 ml pietersielie en tiemie, gekap
  • parmesaankaas
  • sout en peper

Kook pasta in ’n pot water op die stoof. Dreineer kookwater sodra pasta gaar is en spoel af onder koue water om die kookproses te stop. Verhit ’n pan met olyfolie op hoë hitte. Plaas gehalveerde piekeluitjies met die gesnyde kant na onder in die warm pan en laat toe om te verbruin voordat jy die heel babatamaties byvoeg. Sodra die tamaties se vel begin bars, voeg die chorizo-wors by om warm te word. Net voor jy dit voorsit, voeg jou gaar pasta, olyfolie, kruie asook parmesaan na smaak by. Meng en geur met sout en varsgemaalde swartpeper.

Hoop julle smul dié week aan tamaties!

Klits-en-klets-kok

Liezl

Volg my ook nou hier en kook saam:Twitter: @KlitsenKletsKok

Facebook: Klits en Klets Kok

Instagram: klitsenkletskok