FOTO Micky Hoyle

Bykos

Tuisgemaakte appelliefie-konfyt

maak sowat 2 x 500 ml-flesse konfyt

• 800 g appelliefies
• 800 g (1 000 ml) suiker
• 200 ml water

Plaas al die bestanddele in ’n groot dikboom-kastrol. Bring stadig tot kookpunt terwyl jy heeltyd roer. Die suiker moet heeltemal opgelos wees voor die stroop begin kook. Was so elke nou en dan die suikerkristalle teen die kante van die kastrol af met ’n nat kwas. Wanneer al die suiker opgelos is en die stroop begin kook, laat vir ongeveer 30 – 40 minute kook. Toets ná so 30 minute die konfyt: Skep ’n bietjie warm stroop in ’n bordjie wat in die yskas verkoel is. Trek dan ’n streep deur die stroop met jou vinger en as die paadjie oopbly, is jou konfyt reg. Gooi konfyt in gesteriliseerde flesse.