Drankies

Stap vir stap: Maak jou eie bier

Vandag is Internasionale Bierdag! En deesdae is dit maklik om sommer jou eie te maak. Al wat jy nodig het om ale of ligte bier te maak, is water, ’n biermaakstel, baie geduld en tyd – tot drie maande.

In jou biermaakstel kry jy toerusting wat jy met ’n mengsel van 4 ml ongegeurde bleikmiddel op 1 liter water ontsmet. Jy kry ook ’n volledige resep, bestanddele en aanwysings.

Jou tydlyn

Begin hier: Koop jou bierstel aanlyn by: www.beerlab.co.za
Dag 1: Ontsmet al die toerusting met water en bleikmiddel (4 ml bleikmiddel op 1 liter water). Volg stappe 1 – 6
14 dae later: Jou bier is reg om gebottel te word. Volg stappe 7 – 10.
14 dae tot 3 maande: Jou bier is reg om gedrink te word. Dit kan tot ’n jaar in jou yskas hou.

Maak jou eie Bier

STAP 1

Verwyder etiket van Coopers Aleblik (die silwerkleurige blikkie). Maak dit oop en haal pakkie met gis uit. Hou gis eenkant. Dompel silwer blik 20 minute onderstebo in kookwater om die inhoud te laat smelt.

STAP 2

In die biermaakstel is ’n fermentasietenk van plastiek. Spoel dit deeglik uit met kookwater. Gooi sak moutpoeier in die tenk en voeg 5 liter kookwater by. Maak tenk toe en skud rond tot moutpoeier opgelos is.

STAP 3

Maak geweekte silwer blik oop en gooi die swart karamelagtige inhoud van die blik in die fermentasietenk. Vul die tenk tot op die 25-liter-merk met louwarm water. Skud tenk om deeglik te meng.

STAP 4

Aan die voorkant van die fermentasietenk is ’n temperatuurmeter. Sprinkel droë gis op die oppervlak van die vloeistof in die tenk sodra die temperatuur afgekoel het tot tussen 16 – 18 °C.

STAP 5

In die biermaakstel is twee proppe vir die tenk. Maak tenk toe met prop waarin rubbergaatjie is. Vul die deursigtige lugslot (airlock) met water, sit rooi dop op en steek in die rubbergaatjie.

STAP 6

Laat bier 14 dae lank op koel plek fermenteer. Monitor die temperatuur op die meter aan die voorkant van die tenk. Dit moet tussen 14 – 16 °C wees.

STAP 7

Jou ale is reg om gebottel te word! Week glasbottels en metaaldoppies in bierstel minstens 30 minute in mengsel van water en ongegeurde bleikmiddel (4 ml bleikmiddel op 1 liter water). Spoel bottels deeglik af met skoon water.

STAP 8

Tap bier uit in skoon plastiekemmer wat ook ontsmet is met water en ongegeurde bleikmiddel. Tap tot net die sediment onderin die tenk agterbly. Spoel die tenk weer deeglik uit.

STAP 9

Gooi bier terug in die skoon tenk. Kook suiker in jou bierstel 20 minute saam met 400 ml water in ’n toe pot. Laat afkoel met deksel op pot. Gooi afgekoelde stroop in fermentasietenk en meng deeglik deur.

STAP 10

Gebruik spesiale tuit wat saam met bierstel kom om bottels te vul met bier. Seël bottels met metaaldoppies. Plaas in yskas en laat staan minstens 14 dae tot 3 maande. Maak jou eie etiket en geniet jou bier!