Room likeur
Drankies

Maak jou eie roomlikeur!

Die groot bederf van ’n glasie roomlikeur is ekstra spesiaal as jy weet jy’t dit self gemaak! Dit kan deel wees van ’n mengeldrankie of nagereg. Dis ook ’n lekker tuisgemaakte geskenk om te gee.

Tuisgemaakte roomlikeur 

Genoeg vir 1 liter

• 375 ml whiskey van goeie gehalte (soos Jameson)
• 1 x 400 g-blik kondensmelk
• 30 ml winkel-sjokoladesous
• 30 ml gehalte-kitskoffie, opgelos in 15 ml kookwater
• 375 ml room
• 1 x 1 liter-glasbottel met prop of kurk, gesteriliseer

Meng al die bestanddele goed in ’n groot genoeg mengbak. Gooi die roommengsel oor in die glasbottel en seël met kurkprop of doppie. Plaas in yskas vir minstens 1 uur of geniet dadelik oor gebreekte ysblokkies.

Hierdie eenvoudige resep kan maklik omskep word in ’n heerlike mengeldrankie of oor roomys geniet word as nagereg.

Melkskommel met skop

Genoeg vir 4 – 6

Skep 1 liter sagte vanieljeroomys in die bak van ’n elektriese menger. Gebruik die mengspaan (K-beater) en meng die roomys op ’n stadige spoed tot dit sag word. Terwyl die menger loop, voeg 500 ml van die roomlikeur stadig by. Meng goed. Verdeel eweredig tussen 4 – 6 glase.