FOTO Micky Hoyle

FOTO Micky Hoyle

Drankies

Ons drink nou caipirinha!

Cheers op ons atlete: ons medalje-wenners, die sewespan en die hele Span SA wat hul beste gee. Drink saam – dis geen wonder caipirinha is die Brasiliane se nasionale drankie nie! 

Karamel- en sitrusgeure word vermeng tot ’n yskoue lafenis. Maar pasop – hy’t skop!

Caipirinha

Tradisioneel word die drank cachaça as basis gebruik, maar vervang dit met rietsnaps (cane) – dis makliker verkrygbaar en heelwat goedkoper

maak een drankie

• 2 eetlepels muscovadosuiker (of enige suiker met ’n karamelgeur)
• 1 lemmetjie, gesny in agtstes (sny eers in kwarte en halveer dan horisontaal)
• hand vol ysblokkies
• 1 of 2 sopiemates cachaça of rietsnaps (cane)
• sodawater

Sit 4 van die 8 lemmetjieskywe en die suiker in ’n glas en stamp tot gekneus en goed vermeng. Voeg nou die ysblokkies by, en daarna die cachaça of rietsnaps. Vul die glas met sodawater. (Gebruik res van lemmetjieskywe om nog ’n drankie te maak.)

Het jy geweet?

As die cachaça met wodka vervang word, word die drankie caipiroska genoem.

Ons SARIE KOS-vriend sê

Dit smaak soos somer – beslis meer gepas vir die strand as vir Stellenbosch se winter. Volgende keer sal ek meer bruinsuiker byvoeg om die skop van die rietsnaps teen te werk - Jeanine Roux van Stellenbosch