FOTO Micky Hoyle

Gebak

5-uur-lamsboud

ʼn Baie lekker manier van kook – die vleis is lank in die oond terwyl jy oorgenoeg tyd het om ander dinge te doen.

genoeg vir 6

• 1 lamsboud met been (sowat 2 kg)
• 100 ml olyfolie
• 40 ml sout
• varsgemaalde swartpeper na smaak
• 40 ml olyfolie
• 20 – 30 klein piekeluitjies, geskil
• 1,2 kg klein rosa-tamaties
• 1 heel bol knoffel, in huisies verdeel
• 4 roosmaryntakkies

Verhit oond tot 160 °C. Plaas lamsboud in groot oondbak. Gooi die 100 ml olyfolie oor en geur met sout en peper. Plaas oop in oond vir ’n uur. Verhit intussen die 40 ml olyfolie in ’n pan. Braai uitjies tot bruin. Voeg tamaties by en braai verder tot tamaties net sag is. Haal boud uit oond ná uur verby is. Pak uitjies, tamaties en knoffel om lamsboud en voeg roosmaryn by. Geur met nog ’n bietjie sout en peper en plaas terug in oond. Laat lamsboud vir nog 4 uur bak. Jy kan so af en toe van die sous oor die boud gooi. Die vleis gaan omtrent van die been af val.