pate_ai_pommes_des_terre_a
Gebak

Aartappeltert

8 porsies

  • botter, om tertbak te smeer
  • 2 rolle blaardeeg, ontvries
  • 1 eier, geskei
  • 50 g extra virgin-olyfolie
  • 50 ml botter
  • 8 preie, in skyfies gesny en gewas
  • 16 mediumgroot aartappels, geskil en gekook
  • 750 ml crème fraîche
  • 175 g sprietuie, gekap
  • seesout en varsgemaalde swartpeper

Verhit oond tot 200 ºC. Smeer ’n tertbak met botter en voer dit uit met een vel blaardeeg. Prik deeg met ’n vurk en smeer ’n lagie eierwit oor. Dit keer dat deeg pap raak terwyl dit bak. Verhit olyfolie en botter in ’n pan. Wanneer die botter skuimerig begin raak, voeg preie by en braai liggies tot sag. Hou eenkant. Sny aartappels in dun, eweredige skyfies en gooi hulle in ’n groot bak. Geur goed met sout en swartpeper. Voeg preie en helfte van crème fraîche by. Meng deur. Skep mengsel in deegdop. Bedek met die ander vel deeg en druk dit netjies vas aan die kante. Prik liggies met ’n skerp mes om te sorg dat stoom kan ontsnap. Bak vir 45 minute of tot deeg pragtig uitgepof en heeltemal gaar is. Roer intussen die sprietuie deur die oorblywende crème fraîche en geur. Haal die tert uit die oond. Haal versigtig die boonste laag deeg af – dalk het jy hulp nodig, en moenie jou vingers brand nie! Skep die koue crème fraîche-mengsel op die aartappels, sit die deeg weer bo-op en sit dadelik voor met ’n bros groenslaai met hope avokado. Absoluut heerlik saam met ’n glasie sauvignon blanc.