Foto's deur Mickey Hoyle

Gebak

Amandel-en-pistasieneut biscotti

Hierdie is nogal ’n growwe koekie. Die dikte hang af van hoe dun jy dit kan sny. Die maklikste manier is met ’n elektriese mes.
sowat 15 koekies

• 40 g (45 ml) sagte botter
• 125 g (155 ml) suiker
• 225 g (405 ml) koekmeel
• 5 ml bakpoeier
• knippie sout
• gerasperde skil van 1 suurlemoen
• 2 eiers
• 100 g gevlokte amandels
• 50 g heel pistasieneute

Verhit oond tot 180 °C. Voer ’n bakplaat uit met bakpapier. Room botter en suiker saam tot lig en romerig in ’n elektriese menger. Voeg meel, bakpoeier, sout en skil by en meng goed tot deeg vorm. Voeg eiers een op ’n slag by en klits goed ná elke byvoeging. Voeg neute by en meng goed. Plaas deeg op meelbestrooide oppervlak en vorm met jou hande ’n lang wors. Plaas deeg op ’n uitgevoerde bakplaat en bak 30 minute in warm oond. Haal uit en laat afkoel. Sny in skywe en plaas op uitgevoerde bakplate. Plaas terug in oond en bak 12 – 14 minute tot bros. Haal uit en laat afkoel. Sit voor met druiwe, vars vye en
espresso-koffie.