FOTO Donna Lewis

SARIE KOS JUN/JUL 2012

FOTO Donna Lewis SARIE KOS JUN/JUL 2012

Diabeties

Amandel-brownies met sjokoladesous en roomys

Resep deur Annerien Vermeulen

Heerlike klam brownies sonder vreemde bestanddele soos bone. Die ekstra klammigheid en soetigheid kom van die appelpuree in die resep. Dit lyk pragtig as jy die brownies met die roomys, sous en granaatpitte voorsit. As jy nie van granate hou nie, kan jy die granaatsap en -pitte vervang met bosbessiesous en dit dan saam met enige vars bessie voorsit. Die bessie- en granaatsap is albei vol antioksidante en saam met die donkersjokolade sal dit jou teen verkoues help beskerm.

15 porsies

• 250 ml volgraan-bruismeel
• 125 ml kakao
• 2,5 ml koeksoda
• 2,5 ml sout
• 20 ml hawersemels
• 300 ml suikerplaasvervanger
• 80 ml donkersjokoladesplinters (of 70%- donkersjokolade wat in stukkies gekap is)
• 60 ml gemaalde amandels
• 60 g gevlokte amandels
• 2 eiers
• 250 ml vetvrye jogurt (gewoon of vanieljegeur)
• 60 ml onversoete appelpuree
• 30 ml kanola-olie
• 5 ml vanieljegeursel
• versiersuiker om bo-oor te sif

SJOKOLADESOUS

• 80 ml kakao
• 250 ml granaatsap
• 60 ml water
• 30 ml suikerplaasvervanger
• 100 ml vetvrye jogurt of laevet-room

Verhit oond tot 180 °C. Smeer ’n 27 x 17 cm-koekpan met olie en voer die kante van die bak uit met bakpapier. Sif die meel, kakao, koeksoda en sout saam. Voeg die semels wat in die sif agtergebly het en die hawersemels by. Roer die suikerplaasvervanger, sjokoladesplinters, gemaalde en gevlokte amandels by. Maak ’n holte in die middel. Klits die eiers, jogurt, appelpuree, olie en vanielje saam. Voeg by die meelmengsel en roer tot net gemeng – moenie oormatig roer nie. Skep in die voorbereide pan en bak 40 – 50 minute tot gaar. Laat staan 10 minute en haal dan uit die pan. Plaas ’n stensil boop en sif versiersuiker oor om ’n mooi patroontjie te maak. Sny in 15 blokkies.

SOUS
Kook kakao, sap, water en suikerplaasvervanger saam tot kookpunt. Laat 10 minute prut en roer af en toe om te keer dat dit oorkook. Roer jogurt of room by. Sit brownies individueel voor met ’n skep diabetiese roomys. Skep sjokoladesous bo-oor en versier met vars granaatpitte.

ANALISE
1 porsie – ± 65 – 70 g (1 brownie)
Energie – 588 kJ
Koolhidrate – 16,1g
Proteïen – 5,8g
Vet – 7,6g
Versadigde vet – 2,2g
Mono-onversadigde vet – 3,6g
Poli-onversadigde vet – 1,8g
Vesel – 3 g
Glukemieselading (GL) – 7
Opmerkings: Goeie laer-GLpeuselhappie sonder te veel koolhidrate per porsie. Kan goed inpas in die plek van een van jou normale peuselhappies.