Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Gebak

Appel-en-sjokoladekoek met karamelsous

Dis die ideale feeskoek met die karamelsous en toffieappeltjies bo-op.
(Genoeg vir 6 – 8)
Baktyd: sowat 1 uur

  • 240 g (430 ml) bruismeel
  • knippie sout
  • 120 g (130 ml) botter, in blokkies gesny
  • 120 g (150 ml) suiker
  • 2 appels, geskil en in klein blokkies gesny
  • 180 g melksjokolade, in blokkies gesny
  • 1 eier
  • 2,5 ml vanieljegeursel
  • 90 ml melk

Maak seker die oondrak is in die middel van die oond en verhit dit dan tot 180 °C. Sif meel en sout saam. Vryf botter in meelmengsel in tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg suiker, appels en sjokolade by. Meng goed deur. Klits eier, vanieljegeursel en melk saam. Voeg by droë bestanddele en meng goed. Skep in gesmeerde broodpan van sowat 18 x 8 cm. Die bodem van die pan moet met bakpapier uitgevoer word. Plaas in oond en bak sowat 1 uur. Toets met dun pennetjie of dit gaar is. Haal uit en laat sowat 10 minute in pan afkoel voor jy dit uitkeer. Laat heeltemal afkoel voor jy die karamelsous en appeltjies bo-op sit.

Karamelsous

  • 1 blik (397 g) kondensmelk
  • 30 ml goue stroop
  • 60 g (65 ml) botter

Sit al die bestanddele in ’n kastrol. Plaas op lae hitte op stoof en meng goed. Bring tot kookpunt terwyl jy roer en laat kook sowat 2 – 3 minute tot dit ’n mooi karamelkleur kry. Haal van hitte af en laat effe afkoel voor jy dit oor die koek gooi. Plaas toffieappeltjies bo-op.

Baba-toffieappeltjies

  • 1 blik (425 g) baba-appeltjies, gedreineer
  • 400 g (500 ml) suiker
  • 30 ml water

Plaas appeltjies op kombuispapier sodat dit baie droog kan word. As jy wil, kan jy die stingels verwyder en droë boomtakkies in die appeltjies indruk. Plaas suiker en water in ’n kastrol en plaas op lae hitte op stoofplaat. Maak toe met deksel en en laat suiker smelt. Wanneer suiker gesmelt is, haal deksel af en laat prut oor lae hitte. Jy moet die mengsel glad nie roer nie, want dit kan versuiker. Pleks van roer kan jy die kastrol nou en dan goed skud. Wanneer die suiker gekaramelliseer het, haal van hitte af en doop appeltjies in karamel. Werk vinnig, want die karamel kan gou hard word. Laat word droog op bakpapier. Wanneer hard, versier die koek met die appeltjies.