Gebak

Appelkoos-en-amandel-stafies met sjokolade

Sowat 16 Stafies (40 g elk)

  • 250 ml gedroogde appelkose, gekap
  • 125 ml water
  • 190 ml volkoringmeel
  • 2,5 ml bakpoeier
  • 1,5 ml koeksoda
  • knippie sout
  • 125 ml donkersjokolade, grofgekap
  • 1 eier
  • 1 eierwit
  • 30 ml heuning
  • 60 ml kanola-olie
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 60 ml gevlokte amandels
  • 50 g donkersjokolade, gekap en gesmelt (opsioneel)

Verhit oond tot 180 °C. Voer ’n bakplaat (20 cm x 20 cm) uit met bakpapier. Meng 125 ml van die appelkose met die water en kook vir 2 minute tot sag. Laat afkoel en verpulp in voedselverwerker. Meng die meel, bakpoeier, koeksoda en sout. Roer die res van die gekapte appelkose en sjokolade by. Voeg die eier, eierwit, heuning, olie en vanielje by die appelkoospulp en verwerk tot glad. Meng die 2 mengsels en skep in voorbereide pan. Sprinkel die amandels bo-oor. Bak vir ongeveer 18 – 20 minute tot gaar. Laat afkoel en sny in skywe. Plaas gesmelte sjokolade in ’n plastieksakkie. Maak ’n klein snytjie aan die onderste punt, en spuit patroontjies bo-op die skywe met die sjokolade. Laat staan tot gestol.

Appelkoos-en-amandelstafies– analise per stafie van 40 g
Energie 630 kJ
Koolhidrate 11 g
Proteïen 4 g
Vet 10 g
Versadigde vet 2 g
Mono-onversadigde vet 6 g
Poli-onversadigde vet 2 g
Cholesterol 14,5 g
Glukemiese lading 5

Kommentaar van Dieetkundige
Hoewel die totale vet taamlik hoog is, is dit ’n baie goeie keuse omdat die vet meestal bestaan uit monoonversadigde vetsure. Dis dus ideaal vir ’n peuselhappie.