Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Gebak

Appelpoffers met karamelsous

Makliker as hierdie karamelsous sal jy nêrens kry nie.
(Genoeg vir 10 poffers)
Braaityd: sowat 5 minute

Beslag

  • 140 g (250 ml) koekmeel
  • 7,5 ml bakpoeier
  • 35 g (65 ml) suiker
  • 1 eier
  • 145 ml melk
  • 15 g (15 ml) gesmelte botter

Sif meel en bakpoeier saam. Voeg suiker by en meng goed. Klits eier, melk en botter saam. Maak holte in middel van droë bestanddele en voeg vloeistof by. Klits goed met ballonklitser tot al die klonte weg is. Maak toe met afdrooglap en laat staan sowat 30 minute.

Poffers

  • 2 groot appels – bv. golden Delicious
  • 60 ml strooisuiker
  • 5 ml kakao
  • sowat 500 ml sonneblomolie

Ontklok die appels. Skil af en sny in 5 mm-skywe. Plaas in bak met soutwater (sien wenk). Maak appels droog op kombuispapier, anders sal die beslag nie aan die appelskywe vassit nie. Meng suiker en kakao. Verhit olie in diep pan. Skep ’n klein bietjie van die beslag in olie. As dit stadig begin braai, dan weet jy die olie is reg. Doop twee appelskywe op ’n slag in beslag en plaas versigtig in olie. Braai sowat 2 minute aan een kant en draai om. Braai verder tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier. Plaas op bord en hou warm eenkant. Sprinkel met kakaosuiker en sit voor met karamelsous.

Karamelsous

  • 170 g winkelfudge
  • 125 ml room

Breek fudge in stukke. Plaas saam met room in ’n kastrol. Plaas op lae hitte en roer nou en dan tot fugde gesmelt is. Laat effe afkoel voor jy voorsit. Onthou, karamel word baie warm, so werk versigtig sodat jy nie brand nie.

Wenk
Vars geskilde appels word vinnig bruin. Sit appels in ’n bak met soutwater om te keer dat dit gebeur.