Foto deur Donna Lewis

Gebak

Baklava-koek

Propvol neute, heuning en vanielje!

Genoeg vir 10 – 12

Bak tyd: 1 uur en 20 minute

  • 1 x 500 g-boks fillodeeg
  • 400 g gemengde neute (pekan-, pistasie-, hasel- en okkerneute), fyngekap
  • 80 ml onverwerkte bruinsuiker
  • 45 ml kanola-olie
  • 120 ml heuning
  • 250 ml water
  • 5 ml vanieljegeursel

Sjokoladesous

  • 100 g 70%-donkersjokolade, fyngekap
  • 100 ml melk

Verhit oond tot 180˚C. Gebruik bodem van ’n 22 cm-losboom-ringpan en meet twee sirkels langs mekaar op die hele hoop fillodeeg. Gebruik skerp mes en sny om die sirkel deur die stapel fillo. Gooi oorskietdeeg weg. Spuit pan goed met kleefwerende kossproei. Meng al die neute en suiker in mengbak. Plaas twee velle gesnyde fillo in pan. Smeer goed met olie. Sprinkel dun lagie neute oor. Plaas 3 velle bo-op en verf weer met olie. Herhaal proses tot hele pan vol is. Eindig met fillo. Maak pan met tinfoelie toe en bak vir 1 uur. Verwyder foelie en bak oop vir nog 15 – 20 minute of tot goudbruin en bros. Plaas intussen heuning, water en geursel in klein pot en verhit tot kookpunt. Laat kook vir 5 minute. Haal koek uit oond en gooi warm stroop oor. Laat afkoel.

Sjokoladesous

Bring melk tot kookpunt en gooi oor sjokolade. Roer tot gladde mengsel. Verwyder koek uit ringpan, gooi sjokoladesous oor en sit voor.